|
(Hennie Aucamp / Amanda Strydom, Graeme Currie)
'n Buikige heer met n bolhoed stap verby en sê goeiendag geseënd is die bolhoed-menere wat hul naaste as medemens ag
'n Geel transvestiet op hakke swalk telkens berekend verby; haar boude lil geil in haar sjoebroek, maar kan sy 'n straight man verlei?
'n Sterk parapleeg op wiele rol verby, sy arms twee stange hy groet bra onwillig: n sweetspoor blink siltig op albei sy wange
'n Songelooide blondine voel haar windhond ontydiglik rem, en basig pluk sy aan die leiriem en vloek met n rou whiskeystem
Twee blokbuddies wil kom geselsmaak maar uncle het geen geld of kos die een slenter weg, maar die ander staan pleitend en stryk oor sy tros
'n Hobo, lekker getarra kom vra by die lani 'n las maar my teeneis vind hy onwelvoeglik "Laat jou moffies jou Beetletjie was!"
'n Gluiper uit donker Marokko loer skigtig rond soos hy loop ek wuif hom weg sonder omhaal hy wil buttons en dwaalbos verkoop
'n Ou man, 'n Jood kom sit langs my en praat oor Weimar Berlyn ons voer die gesprek al oor jare ek ken sy geskiedenis en pyn
En dan kom die aand en sy hoere die verpleegster kom haal weer die Jood ek vat my boeke en skryfgoed: die see lyk vanaand net soos lood die see lyk vanaand net soos lood
|